Atletiek


Laerskool Skuilkrans het in 2017 ‘n nuwe atletiekbaan/rugbyveld gekry. Terselfdertyd is die aanloopvlak van beide verspringputte herbedek met ‘n weervaste oppervlak wat spoed en vasstrap bevorder.

​Die atletiekseisoen begin reeds aan die einde van die derde kwartaal waartydens ‘n massabyeenkoms gehou word om ‘n atletiekspan te kies. Diegene wat nie kwalifiseer nie, word steeds aangemoedig om oefeninge by te woon en kan later die kans gegun word om ander atlete te daag.

​Laerskool Skuikrans vorm deel van die P8 skole en ding mee teen Laerskool Lynnwood, Menlopark, Tygerpoort, Wonderboom, Midstream, Monumentpark en Elarduspark.

​Vier poelbyeenkomste vind plaas, twee tydens die vierde kwartaal en twee gedurende die eerste kwartaal. Daar neem telkens vier skole deel en sodoende kan al die skole minstens een keer teen die ander deelneem. Dit is vriendskaplike byeenkomste.

​Al agt skole kom bymekaar tydens die Prestige 8 byeenkoms wat by Hoërskool Menlopark aangebied word.

​Die atletiekseisoen bereik ‘n hoogtepunt tydens die Clusterbyeenkoms waartydens slegs die beste 2 atlete in elke item deelneem. Die top drie atlete per item op die Clusterbyeenkoms, gaan deur na die Distriksbyeenkoms wat op Pilditch gehou word. Van hier af word die span saamgestel vir die Gautengkampioenskappe en laastens die Gautengspan wat by die SA-kampioenskappe deelneem. Laerskool Skuilkrans se atlete het nog altyd fantasties gevaar tot op hierdie vlak.

​Oefentye word sorgvuldig beplan en opgestel sodat atlete by al die items kan uitkom, veld- sowel as baanitems. Bekwame onderwyser-afrigters sowel as buite-afrigters rig die atlete af en sien toe dat elke atleet tot sy volle potensiaal ontwikkel.

​Laerskool Skuikrans moedig deelname aan en probeer sover moontlik leerders motiveer om aan een of ander vorm van sport deel te neem. Daar word ook op vaardigheidsontwikkeling gefokus en leerders word aangemoedig om oefeninge by te woon.